Besonderhede
Sadie agtergrond
Marais agtergrond
Nasate pdf-formaat
Ou Sadie foto's
Foto's ons gesin
Elbeth se gesin
Christo se gesin
Emiline se gesin
Ander Sadie gesinne
Familienuus
Sadiesaamtrek 2018
DIE SADIE STAMVADER
EUROPESE AFKOMS

Johan(n) Michiel Sadie, ook genoem Satty, Sodie, Sootie en Soltie, van Bruchsal in Baden (Duitsland), kom in 1757 met die skip Rozenburg in Kaapstad aan as ’n soldaat in diens van die V.O.C.. Volgens die inligting wat ek uit die Nederlandse argiewe kon bekom was hy reeds in diens van die V.O.C. toe hy aan boord gegaan het. In die passasierslys is hy aangeteken as Johan Sootie. Later word hy ’n leerlooier. In 1762 word hy ’n burger. Ek neem aan dat sy dienstydperk as soldaat verstryk het. Uit die gereedskap wat in sy boedel genoem word, lei ek af dat hy ook ’n saalmaker was. Hy trou op 24/10/1762 met Sara Maria Nielson en 12 kinders word uit hierdie huwelik gebore.

Volgens inligting op die internet, is hy in 1737 gebore. Hy was dus ’n jong man van ongeveer 20 jaar toe hy in die Kaap aangekom het. Hy is gebore in Brock, Westvalen, Preussen. Ek neem aan dat Brock en Bruchsal dieselfde plek is. Oos-Pruise was ook bekend vir die opleiding van soldate en veral offisiere. Mens kan maar net wonder wat hierdie jong man laat besluit het om sy vaderland te verlaat en hom vêr in dié vreemde land te vestig. In Europa, veral Duitsland was dit daardie jare baie moeilik om ’n bestaan te maak. Daar was ook gedurig oorloë, soos ook blyk uit die geskiedenis van Bruchsal. Dit lyk asof Nederland juis daardie tyd soldate gesoek om in die Kaap diens te doen. Daar is so baie dinge wat ek graag van hierdie jongman sou wou weet; het hy enige broers of susters gehad? Het sy ouers nog geleef? Ek hoop om later meer inligting in te win.


INLIGTING OOR BRUCHSAL

Uit ’n lugfoto op “Google Earth” lyk dit asof dit in ’n pragtige groen deel van die land geleë is. Dit grens aan die Bo-Rynrivier gelyktes en die Kraiqau langs die Saalbach, ’n klein sytak van die Rynrivier. Dit is ongeveer 20 km noordwes van Karlsruhe.

Die dorp was reeds in die nuus in 980 toe die koning die dorp besoek het. Gedurende October 980 het Otto II en sy gevolg vir ’n paar dae in die paleis in Bruchsol gebly. Op 10 Augustus 1689 is die dorp heeltemal verwoes en slegs 130 mense het oorgebly.

Teen die tyd dat Johan Michiel Sadie die land verlaat het, was daar ongeveer 6000 inwoners. Vandag is daar meer as 40 000 inwoners. Dit is ’n baie belangrike spoorwegaansluiting en is daar Metallurgiese, chemiese, papier en tekstiel aanlegte. Die stad het ook ’n barokkasteel en kerk.


PAGPLAAS GROOTWATER

In die gesamentlike boedel van Johan en Sara word daar melding gemaak van die pagplaas, Grootwater, in De Groene Kloof, waar Johan waarskynlik geboer het. Dié plaas was geleë tussen Darling en die see, net aan die Darling kant van die huigige kuspad vanaf Kaapstad na Velddrif. Die benaderde GPS-koördinate wat ek van Corney Keller gekry het, is 32° 22’ 17.20” S en 18° 16’ 18.28” O. Volgens Corney Keller wat die inligting aan my voorsien het, was Grootwater en Gemsbokskuil in 1850 nog in besit van ene A. Sadie. Johan en sy vrou Sara is kort na mekaar oorlede, sy op 15 Mei 1824 en hy op 27 Junie 1824 (sien uittreksel uit). Hy het dus die hoë ouderdom van 87 jaar behaal.

Om die hele boedel te sien, klik hier. U moet Adobe reader op u rekenaar hê om die lêer oop te maak. Dit is gratis bekombaar op internet

UITTREKSEL UIT BOEDEL

Inventories of the Orphan Chamber
Cape Town Archives Repository, South Africa
Reference no.: MOOC8/39.50
Testator(s): Sara Maria Nielsen Johan Michiel Zadie
3 Augustus 1824

Inventaris van alle zodanige goederen als in gemeenschap bezeeten geweest zyn by den burger Johan Michiel Zadie ende desselfs huisvrouw Sara Maria Nielsen, mitsgaders van de zyde des eerstgenoemde op den 15 May j:l: en de laatst gen: op den 27 Juny j:l: ab intestato met er dood ontruymd ende nagelaten ten voordeele hunner by den anderen in echt verwekte kinderen, met naame
1) Frans Hendrik
2) Johanna Petronella wed: Jan Stemmet
3) Anna Marg:a wed: Willem Hand
4) Fredrik Albrecht
5) Anna Catharina wed: Carel Roski
6) Johanna Elizabeth get:d met Thomas Doughty
7) Fredrik Albertus en
8) Johan Michiel Zadie uitlandig, edog van wien men in de laatste jaaren geene tyding van Batavia heeft ontvangen.

Zodanig als dezelve nalatenschap door ons ondergetekende expres gecommitteerde Weesmeesteren zyn opgenomen en ingeschrifte gebragt, mitsgaders bevonden te bestaan in het volgende te weeten Op de pagt plaats genaamd Grootwater gelegen in de Groene Kloof Een stuk vyftien jaarige erfpagt land gelegen in het Kaapsch district aan de oostelyke zyde van de Klyne Bauwe Bergh

KINDERS UIT SY HUWELIK

Uit die boedel wat ek op internet kon opspoor, word slegs 8 kinders se name genoem. Dit is duidelik dat die oudste seun, Johan Michiel Junior na Batavia gegaan het en dat hulle alle kontak met hom verloor het. Van die tweede en derde seuns, Johan Adam en Paul Hendrik word daar glad nie melding gemaak nie. Ek kon ook nie hulle sterftekennisse in die Kaapse argiewe opspoor nie. Die oudste dogter, Johanna Petronella, was ten tye van haar ouers se dood reeds die weduwee van Johannes Frederikus Stemmet. Die vierde seun Frans Hendrik word wel genoem. Volgens sy sterftekennis is hy op 6 Junie 1834 oorlede. Dit lyk asof hy ook redelik vervreem was van die familie aangesien daar gemeld word dat sy ouers onbekend is. Plek van dood word as Tygerberg aangegee en beroep saalmaker. Dit lyk of hy dié ambag by sy vader geleer het. Die sesde kind, Anna Margaretha se man Wilhelm Huth was reeds oorlede. Frederik Albrecht is gebore in Kaapstad, dus voor hulle na Grootwater verhuis het. Hy is in Rondevlei op 14 September 1854 oorlede. (Ek wil nog die plaas Rondevlei opspoor.) Die volgende dogter, Anna Catharina se man Wilhelm Ruschiet was ook reeds oorlede. Die volgende suster, Johanna Elizabeth is in Kaapstad gedoop op 5 Augustus 1781. Sy was getroud met Thomas Wright Doughty, ’n wewenaar. Al wat aan my bekend is van die jongste dogter, Sara Margaretha, is dat sy op 4 Januarie 1784 gedoop is. Sy word ook nie in die boedel genoem nie. Dit is moontlik dat sy vroeg oorlede is. Die jongste seun, Frederikus Albertus, is gedoop op 25 Maart 1785. Volgens sy sterftekennis is hy gebore op Grootwater en in Kaapstad en oorlede op 20 Maart 1876. Sy beroep word aangegee as boer en sekere bronne beweer dat hy op Grootwater oorlede is. Dit lyk dus of hy die laaste van die Sadies is wat daar geboer het. Hy was nie getroud ten tye van sy dood nie.

MY SADIE GESLAGSREGISTER

a1 Johann Michiel Satty (Sadie) (Stamvader)
Gebore 1737, trou met Sara Maria Nielsen in Kaapstad 1762, twaalf kinders uit huwelik, oorlede 15 Mei 1824 Grootwater, De Groene Kloof. (Darling distrik)
b7 Frederik Albrecht (My groot oupagrootjie)
Gebore op 22 September 1776, trou op Stellenbosch op 2 Maart 1817 met Aletta Catharina Smit(h) , oorlede 14 September 1854 Rondevlei. Tien Kinders uit huwelik. (Sterftekennis KAB Mooc 2749 - 1854)
c7 Frederik Albertus (My oupagrootjie)
Gebore 1 Maart 1830 Kuikensvlei of moontlik Kikoesvlei, Malmesbury, (Dit was moeilik om hanskrif op die sterftekennis te ontsyfer.) gedoop Swartland 25 November 1836, trou met Anna Sophia Elizabeth De Milander, oorlede 9 September 1903 op Klipvlei, Saldanha (KAB Mooc 2163 - 1903)
d4 Hermanus Izak Johannes (My oupa)
Gebore Oranjevlei Saldanha 12 Julie 1862, trou met Maria Petronella Ausserhöffer, 8 kinders uit huwelik gebore, oorlede 10 Julie 1930 Klipvlei, Saldanha. (KAB Mooc 28297 - 1930) Sien gesinsfoto’s en begraafplaas.
e5 Jacobus Albertus Christiaan (Japie, my pa)
Gebore 22 Nov 1898 op Klipvlei, Saldanha, trou met Maria Emily Anna Booysen De Doorns, 5 kinders uit huwelik, oorlede 15 Nov 1990 Vredenburg. Sien troufoto onder die “Ou Foto’s” skakel.
f3 Jacobus Nicolaas (James, dis nou ekself)

Gebore 16 Desember 1934 op Klipvlei, Saldanha, trou met Paulina Johanna Marais 6 Augustus 1960, 3 kinders uit huwelik.
Die volledige register met alle name is op die webblad onder geslagsregister beskikbaar. Dit kan ook by my in Gedcomformaat gekry word.

DIE PLAAS KLIPVLEI

Die plaas Klipvlei was eers bekend as Kreefbaai en is later in my opinie onderverdeel in Klipvlei, Kalkrug, Prospect Hill en Middelpos. Die eerste keer wat daar van Klipvlei melding gemaak word is op die sterftekennis van my oupagrootjie, Frederik Albertus Sadie. Op die onderstaande dokument uit die argiewe blyk dit dat hy as kieser geregistreer is in 1878 met sy adres as Klipvlei. Hy moes dus die eienaar van die plaas gewees het. Hy is ook in die plaaskerkhof op die plaas begrawe.

Afskrif van registrasie as kieser
Surname : Sadie

Title : Sadie F. Albertus 1878
First Names : F. Albertus
Residence : Klipvlei
Provincial District : Western Cape
Electoral Division : Malmesbury
Cornetcy : St. Helena Bay
Notes : Civil Commissioner's Office: Malmesbury, 10th August, 1878
Source : Voters List. Western Cape 1878. Cape Colony Publication Vol 1117
Source Location : Cape Town Archives Repository
Rec ID : 32691

MY NAASTE FAMILIE SE BESONDERHEDE

Ek, my ouer broer Herman, ouer suster Dorothea, tweelingsuster Marion en jongste suster Emelia, is gebore op die plaas Klipvlei naby Saldanha. My ouers, Japie en Maria Sadie het daar geboer tot 1942 en was verplig om die plaas te verlaat toe die plaas gedurende die tweede wêreldoorlog militêre gebied geword het. (Klik op "Ou Sadie foto's"-balkie vir foto's van die plaashuise.)

Ek begin my skoolloopbaan (sub A en sub B) aan die Laerskool Saldanha. Sover ek onthou was ons slegs vyf Sub A-leerlinge, wat ook my tweelingsuster, Marion insluit. Al die leerlinge vanaf Sub A tot standerd twee was in een klaskamer, met juffrou Visser aan stuur van sake. Standerds drie tot ses was by mnr. Olivier in die ander klaskamer. Hier het ons skoolgegaan met die gekrys van die seemeeue in my ore. Dit is vandag nog vir my musiek in die ore.

Einde 1942 verhuis ons na Vredenburg, waar ek my omtrent boeglam skrik vir die groot aantal skoliere (300 van Sub A tot standerd 10). Aan die einde van 1952 matrikuleer ek aan Vredenburg Hoërskool.

Ek begin werk in Kaapstad by die Poskantoor se Ingeneursafdeling (vandag Telkom) as Leerling Tegnikus. Na vyf jaar kry ek op eie versoek 'n oorplasing na Port Elizabeth. Ek ontmoet my vrou, Pauline Marais in die Oos-Kaap. Ek word verplaas na Vereeniging, Transvaal en ons trou op 6 Aug 1960 in Middelburg, Kaap. Uit die huwelik word drie kinders gebore, die oudste dogter, Elbeth, en die tweeling seun Christo en dogter Emiline, almal Transvalers.

Elbeth trou met Schoombee Pretorius en daar word drie kinders, Johan, Nico en Marilize uit dié huwelik gebore. Marilize is onlangs getroud met Ruan Blignaut.

Christo is getroud met Hyla Booysen en twee seuns, Jaco en Tiaan is uit hierdie huwelik gebore.

Emiline trou met Etienne Beets en daar word 'n seun Martin en 'n dogter Monique uit hierdie huwelik gebore.

Na 17 jaar diens verlaat ek die Poskantoor en sluit by die Transvaalse Onderwysdepartement aan. Twee jaar daarna word my droom om terug te keer na die Kaap Provinsie bewaarheid toe ek 'n pos in Worcester kry. Na drie jaar kry ek 'n bevorderingspos na Tegniese Skool Port Elizabeth. Vyf jaar later verskuif ek na Port Elizabeth Tegniese Kollege waar ek later 'n aanstelling as Afdelingshoof kry. Na agt jaar kry ek 'n bevorderinspos na Onderwyskollege Algoa en later nog 'n bevordering by dieselfde Kollege. Kort voor my aftrede neem ek vir 'n kwartaal waar as Rektor. Na agt jaar by die Onderwyskollege tree ek in 1996 af. Later verhuis ons na Eedenglen Aftree-oord in Jeffreysbaai, waar ek tans bly.